Coenie & Kie toor met die Karoo

Resensie: Karoo Suite

Deur Barbara Loots

Met sy Karoo Suite vertonings stel Coenie de Villiers sy nuwe CD aan die KKNK feesgehoor bekend. Dit is ‘n kombinasie van nuwe liedjies en ou geliefdes waarvoor hy nuwe ‘unplugged’ of instrumentale ‘fusion’ jassies aantrek.

Coenie de Villiers het  opleiding as klassieke pianis wat blyk uit die vernuf en agting waarmee hy die klawers laat sing, maar boonop is hy ‘n storieverteller. Musiek is sy taal en die emosionele stories daarin die aanloklike crescendo. Dit maak sy uitvoerings altyd meer as net nog ‘n musiekvertoning. Op ‘n manier het dié singende storieverteller sy kenmerkende verhoogpersoonlikheid geword.

Met Karoo Suite, sowel as met sy nuwe CD emoji, daag hy homself tog uit om buite sy eie gemaksone te beweeg. Hy is eerlik met sy gehoor daarin dat sy basiese reël nog altyd was om net oorspronklike liedjies uit te voer: geen vertalings en geen ‘covers’ nie. Met Karoo Suite (as die verhoog-opvolg van emoji) verken hy die diepte in kreatiewe samewerking, soos gehoor kan word in Windmeul van jou Hart met lirieke deur Linette Retief en musiek deur Michel Legrand. Sy vertolking is egter steeds uniek De Villiers, wat dit besonders maak.

Gepaard met elke liedjie deel hy steeds ‘n staaltjie met sy kenmerkende vlymskerp en droë sin vir humor. Saam met sy bekwame orkes is die hele aanbieding betowerend, met selfs die beligting wat aan elke liedjie ‘n verdere dimensie gee.

As die kind van ‘n Graaff-Reinetter moet ek bieg dat De Villiers se musiek vir my ongelooflik nostalgies is. Dit was deel van my grootword, veral sy Karoonag. Wat Karoo Suite wel vir my getoon het, is dat – nostalgie daar gelaat – sy nuutskeppings ook in melodie en emosie tot mens spreek. Miskien waarvoor hy die lirieke geskryf het, met musiek deur Gabriel Faure, is ‘n sterk voorbeeld daarvan en ‘n hoogtepunt van die vertoning.

In ooreenstemming met die idees van skeppende samewerking, behels Karoo Suite dan ook soveel meer as net ‘n Coenie de Villiers klaviersolo. Met video-insette stel hy sy gehoor aan sy mede-kunstenaars voor in hulle afwesigheid, en verskaf aan ‘n groot venue soos Die Burgersentrum ‘n intieme atmosfeer.

In die laaste 15 minute van die vertoning deel hy ook die verhoog met sy skrywersvriend Deon Meyer om hulle nuutskepping Karoo Suite – die musiekstuk wat naam leen aan die produksie – vir die eerste keer met gehore te deel. ‘n Gehoorlid mag vergewe word as daar  gedink word dat die beweging ‘n Vivaldi invloed het, maar die seisoene tema is waar die vergelyking eindig. Dit is ‘n nuutskepping  in eie reg. Hierdie is De Villiers en Meyer se Karoo twee-seisoene kind, want soos Meyer tereg sê, “…die Karoo het net twee seisoene, somer en winter”. ‘n Werk in vier dele verf ‘n prentjie met note en woorde, terwyl Meyer se Karoo foto’s in die agtergrond ‘n multimediaverhaal-dimensie bring: ‘n storie van genade en omgee, ‘n storie geskryf in ‘n Karoo simfonie.

In eggo van die woorde “ons sê dankie vir die lekker, en ons sê dankie vir die seën” het die eerste Karoo Suite gehoor nie gehuiwer om De Villiers en Meyer staande toe te juig nie. Hulle kombinasie is inderdaard indrukwekkend. Deur die vertoning op so ‘n treffende musikale woordkuns hoogtepunt af te sluit, beklemtoon De Villiers weer die trefkrag van die balans tussen note en teks, iets wat baie eg aan sy musiek is en sy liefdevolle agting vir die Karoo opreg betoon. Meyer verstaan daardie storievertel balans ook goed en bring ‘n verdere menslike dimensie tot die vertoning deur sy teksverering van besonderse ooms en tannies wat die Karoo huis bewoon.

Toe ek opstaan loop ‘n man my prontop en sê “Write there I am English and I thought it was fantastic!” Dié Engelssprekende praat die waardheid.

Lees meer: www.kknk.co.za/karoo-suite/