Amper Famous

Resensie: Amper Famous

Deur Haddad Viljoen

Feeste is ’n uitstekende platform vir jong kunstenaars om hul tande te slyp en hul stemme te vind. Dit is ook die feeste se verantwoordelikheid om dit aan te moedig. Met Amper Famous het ons te doen met so ’n paar kunstenaars, maar met die ondersteuning van die musieklegende David Kramer.

Hierdie musiekblyspel, wat die titel eien as die eerste Afrikaanse hip-hop-musiekblyspel, vertel die verhaal van ’n jong seun, Willem (V.I.T.O.), uit Okiep in Namakwaland wat sy pad vind uit die stowwerige strate en sy droom nastreef om ’n bekende rymkletser te word, maar in sy taal en vir sy mense. Met die ondersteuning van sy vriendin Koekie (Anray Amansure) trotseer Willem, oftewel Wokes, die uitdagings van die lewe op ’n plattelandse dorpie, van verlief raak op die stadsmeisie, Sandra (Rushney Ferguson), tot die realiteit van werkloosheid en armoede.

Amper Famous is nie ’n oorspronklike verhaal nie, daar is geen groot verrassings of onthullings nie. Vito Heyn se teks vertel wel ’n eerlike verhaal van hoop en drome, en gee ’n stem aan die Nama-jeug, wat uitdrukking vind in die rymklets. Die werk is gemik op ’n jong gehoor en ’n mens hoop dat dit wyd op die platteland ook te sien sal wees.

’n Mens voel dat Heyn nog baie gaan groei in sy vertolking en skryfwerk, en hy word baie goed ondersteun deur Amansure en Ferguson. Die twee vroue sprankel in die verskillende rolle, maar dit is Amansure wat telkens die kollig steel. Die stelinkleding is gestroop, met slegs projeksies van die verskillende landskappe. Dit slaag daarin om die gevoel te skep van Namakwaland en eggo die eenvoud van die voorstelling.

David Kramer verleen sy jare lange ervaring om te help bou aan hierdie jong stemme, en dit is hier waar ’n vraagteken hang. Die regie van die stuk laat veel te wense oor. Die beperkte spelleiding en eendimensionele stelontwerp ondersteun nie die potensiaal en passie wat op die verhoog verskyn nie. Dit is onduidelik hoeveel Kramer se invloed op die produksie en musiek is, maar van ’n internasionaal gerekende regisseur en vervaardiger verwag ’n mens meer.

Om met jong talent te werk, plaas ’n groter verantwoordelikheid op jou, en die gevoel hier is dat dit tekortskiet.  

Amper Famous staan in sy kinderskoene, daar is baie talent en groot drome, maar die produksie voel onvoltooid. Nog skaafwerk kan hierdie stemme bemagtig.

 

Lees meer: www.kknk.co.za/amper-famous/