The Swan Song

Resensie: The Swan Song

Deur Amee Lekas

Dit is vir my indrukwekkend dat ‘n storie so rou en eerlik vertel kan word soos The Swan Song.  Dit laat my wonder of dit moontlik is dat iets so grof en misvorm eintlik foutloos kan wees. Ek wil graag terugstap in my voetspore en die hartsaak van die halfmens/halfvoëlmeisie ondersoek. Hoe kon haar geamputeerde gebrek (haar vlerke) haar identiteitloos laat in ‘n voorkoms  wat nou deur die samelewing aanvaarbaar is?  

Onbewus van ‘n verwelkomde lot, volg ek die regiseur, Ilana Cilliers, op met ‘n trap binne ‘n beknopte skeepshouer deur sweterige tamatiesop na ‘n vlerklose swaanmeisie. Die werk is geskryf en word vertolk deur Buhle Ngaba – ‘n welbekende en veelsydige kunstenaar en skrywer van die kinderboek The girl without a sound.  

Nadat die deur agter die laaste gehoorlid toegemaak is, omsingel die benoude hitte my hele lyf. Die ligversorger werk nie, maar my aandag word onmiddelik afgelei wanneer ek die opgekrulde lyf van die swaanmeisie ondek. Sy ontwaak en val sommer weg met ‘n deeglike ondersoek, handspieël in die hand soos ‘n sjirurg sou doen met sy pasïent tydens ‘n opvolgafspraak na ‘n groot operasie. Aanvanklik het ek nie verstaan nie omdat  sy vinnig en versekerd deur die simptome gaan. Soms het dit geklink na ander verwysings soos om rigting op ‘n landkaart te soek. Dit het egter nie saak gemaak nie, want skielik is sy op haar tone en wankel voor die gehoor soos ‘n gedisoriënteerde ballerina. Sy fladder in die klein ruimte verby ‘n stoel waaraan lewelose vlerke oor die rugleuning  hang dan glip sy weer anderkant verby ‘n hoë stapel blikkies tamatiesop.  Dit was vir my vreemd, maar oortuigend. Opvallend was die samestelling van kledingstukke wat later aan die beswete aktrise vaskleef soos aan ‘n ongeneesbare wond. Dit is die rou vertelling van wat sy was en wat sy nou moet wees om te oorleef. Al beteken dit sy moet blikkies tamatiesop uitsuig om nog so klein rukkie aan te hou getuig.   

Op haar tone vertel sy van waar sy groot geword het en waar sepies en Joko tee die begin en die einde van ‘n dag bepaal het; van haar wegbreek in die vreemde wêreld tussen hoogs intelligente gesprekke en later van ‘n vurige verhouding met ‘n wêreldwyse knaap. Alles word uiteengesit met ‘n haastige ritme, want haar tyd is beperk. Plotseling  onderbreek sy haar vertelling wanneer sy uitbars in danspassies met bekende kwaito musiek in die agtergrond. Dit vul die vertrek soos sy lag en tekere gaan.

Dit het alles taai aan my vasgekleef en ingesink tot diep binne my gestel. Dit laat my kriewelrig nadink, want hoe kan onvolmaaktheid so perfek wees? Ek glo dit is juis waarna  Cilliers en Ngaba streef: dat die gegewe gebrek in The Swan Song eintlik algehele volmaaktheid verteenwoordig.

 

Lees meer: www.kknk.co.za/the-swan-song/