Walking the line

Resensie: Walking the line

Deur Amee Lekas

Benjamin Vlandewall, ‘n Belgiese choreograaf, laat die skille van my oë afval deur dit te verruil met oogklappe.

Dit is ‘n interaktiewe straatvertoning wat vereis dat ‘n groep vrywilligers ‘n oogmasker moet opsit. Jou visie word beperk soos om deur die lens van ‘n kamera te loer, “tonnel visie” soos ‘n voetganger vir ons geskree het terwyl ons soos eendjies in die straat afstap. Die idee is om dieselfde gevoel soos om in ‘n cinema te sit na die straat te bring. Eenvoudig, het ek gedink, maar dit was voor die vreesaanjaende realiteit sy nare kop uitgesteek het. Ek het besef ek stap langs ‘n gevaarlike pad, hand aan hand met vreemdelinge.

Alles gebeur organies/natuurlik en elke persoon het sy eie persepsie omdat hierdie fisiese konsep op ‘n sielkundige vlak werk. In my geval het dit my vêr geneem in ‘n ontstellende rolprent wat tussen my en my nuwe medespelers afgespeel het. Beide die publiek en ons deelnemers is die karakters en plaas ons almal onder ‘n vergrootglas. My hele lyf was bedek met koue sweet in die vertroue dat ons as groep  veilig deur die strate sal beweeg. Nelle Hens, ook ‘n fasiliteerder van hierdie werk, verhoed af en toe dat ons nie in iets moet vasloop nie. Alles te veel vir ‘n Suid-Afrikaanse vrou. Dit dwing my om vinnig gemaklik te raak met die gedagte dat iemand van ‘n heel verskillende agtergrond, geslag, selfs ras, aan my blootgestelde heupe mag raak.

Wat my hart verder vinniger laat klop het, is my mense, die publiek, se koue reaksies. Hulle het ‘n  bespotting gemaak  van ons, deur ons harde woorde toe te snou. Woorde wat elke keer eggo teen geboue, tekens soos “Wat soek julle hier” of ‘n kennisgewing wat sê: “Slegs parkering vir pasïente”. Interessant genoeg, ek het nie alleen gevoel nie. Na die tyd het ons vrywilligers woordeloos na mekaar gekyk. Vladewall het vir my die anderkant kom wys wat ek nie andersins sou kon raak sien nie.  Ons weet nou – ons het ‘n geheim alleen beleef. 

Dit gaan my verstand te bowe hoe die komplekse konsep van Walking the line ’n eenvoudige kontrepsie soos oogklappe kan gebruik om jou hartsnare so te kan roer.  Dit is net ‘n jammerte dat die straatvertoning so vinnig sy verskyning gemaak en toe weer verdwyn het. Dis die tipe werk wat feesgangers moet ervaar. Ek is wakker gemaak uit ‘n dodeslaap deur klein gedrukte woorde op geboue en lampale wat per ongeluk  raak gesien het soos  “Kyknie”, “Kykvorentoe” en “Kykmooi”. My waarheid is ontrafel.

 

Lees meer: www.kknk.co.za/straatteater/