Jong protesstemme wat nie dikwels gehoor word nie

Resensie: Piekniek by Mpande, née Dingaan

Deur Mercy Kannemeyer

Piekniek by Dingaan is ’n omstrede kabaret wat in 1988 gedebuteer het. Dit het die Afrikaanse gemeenskap uitgedaag en die toon aangegee vir protes van ’n ander aard.

Piekniek by Mpande, née Dingaan is ’n verwerking van dié stuk, aangepas met kwessies wat spreek tot vandag se gehore.

Die stuk lewer kommentaar op apatie en op die aarde wat besig is om agteruit te gaan as gevolg van verskillende redes.

Hoekom is ’n verwerking van ’n teks wat in die 80’s verskyn het vandag nog geldig? Dit los die gehoor met ’n klomp vrae en daar is beslis baie om aan te herkou.

Die verhoog is deurgaans besig en die projeksies teen die agterste blindings skep ’n gevoel van diepte, want dit skuif oop of skuif rond en laat die beelde op ’n teatrale manier beweeg. Dit is asof die beelde saam met die karakters leef. Die projeksies vul ook die teks en spel aan, wat veroorsaak dat die stuk vol voel, maar nie só vol dat jy nie nog wil sien nie.

Kostuums word op ’n veelseggende manier ingespan. Daar is byvoorbeeld die narre, maar nie die tradisionele nar met ’n wit gesig, groot skoene en rooi neus nie. Narrespel word verder gevoer as die gewone hansworsery en dit kom neer op die idee van hoe belaglik die mens kan wees.

Dit is vir my altyd interessant om te hoor wat mense ná so ’n vertoning sê. Kommentaar wat ek gehoor het,  was onder meer “die chaos op die verhoog weerspieël hoe dit nou in die land gaan”, “dit is nogal baie om in te neem” en nog ’n man het gemeen “niks het verander nie”. Die man het toe sy stelling in konteks probeer plaas en gesê dat dinge sleg was in die verlede en dis nog steeds sleg. Piekniek belig juis hierdie ideologie – vir bevoorregte mense het niks verander nie, maar vir die res is daar nou vryheid.

Daar het definitiewe verandering in ons land plaasgevind en die grootste vir my is ná 1994. Reg aan die begin sê Nicole Holm se karakter “1994… dit was nice” en dit is as’t ware nice dat daar nie meer apartheid is nie.

Hoe dit ook al mag wees, dit is relevant, snaaks en vreesaanjaend. Relevante onderwerpe soos waterskaarste word getakel en ook lingo soos lit en woke word gebruik wat die stuk snaaks maak, want dit is woorde wat deur millennials rondgegooi word. Die vreesaanjaende deel is wanneer jy besef hoeveel werk ons nog as ’n land en as die mensdom in geheel het om te doen. Die werk gaan inkom wanneer ons apatie in oënskou neem – iets wat die stuk doen – en bewus raak van ons eie vooroordele en voorregte.

Piekniek by Mpande, née Dingaan val definitief nie in almal se smaak nie en dis veral jong mense wat dit geniet. Dis ’n stuk vervleg met musiek, skreeusnaakse oomblikke en kommentaar wat jou soos ’n vuishou in die maag tref. En dit laat vrae in jou kop maal.

Uiteindelik protesteer daar stemme wat nie te dikwels gehoor is tydens die onstuimigheid van die afgelope paar jaar in Suid-Afrika nie. Dít is die gevoel waarmee Piekniek by Mpande, née Dingaan my gelaat het.

 

Lees meer: www.kknk.co.za/piekniek-mpande-nee-dingaan/