Onwaarskynlike reis na aanvaarding

Resensie: Die onwaarskynlike verhaal van Miko

Deur Mercy Kannemeyer

Die onwaarskynlike verhaal van Miko het my weer opgewonde gemaak oor poppeteater en my laat besef dat daar ’n klomp verskillende maniere is om stories te vertel.

Dié is ’n stuk wat deur jong kunstenaars geskep is onder die vaandel van hul opkomende geselskap, The Loft Puppet Company.

Die storie handel oor ’n seuntjie wat met net vier vingers aan sy regterhand gebore is en boonop nie sy ouers ken nie. Tannie Molle maak hom groot en hy ontmoet dan ’n seuntjie van sy ouderdom wat uit ’n ryk familie kom, maar wat ook ongelukkig is omdat sy ouers nooit vir hom tyd het nie.

Die twee seuns ontsnap uit hul omstandighede en word vriende. En saam pak hulle die soektog aan na aanvaarding.

Daar is ses poppe op die verhoog en drie akteurs wat hulle om die beurt manipuleer. Terwyl dit nie nuut is dat akteurs in poppeteater meer as een pop hanteer nie, kry hierdie groep akteurs dit reg om die wisseling van een pop na die ander seepglad te doen. Die poppe word lewendig met die akteurs se meesterlike manipulasie en die wisseling tussen die poppe hou die storie aan die gang. Dit is ook ’n buitengewone versameling poppe, veral Miko met sy oranje hare en Zinovia met haar blou gesig. Hierdie onwaarskynlike elemente het my geïnteresseerd gehou.

Hierdie is beslis ’n goeie medium om iemand se leefwêreld te verbreed, want daar word op ’n kreatiewe wyse omgegaan met die poppe en verhooginkleding.

Die pragtigste oomblik is wanneer ’n boom wat uit papier gemaak is, ontvou en Miko en sy maatjie daarin speel. Dit is kinderlike onskuld en die stuk laat ’n mens toe om te glo in die mooi en onwaarskynlike in die lewe.

 

Lees meer http://kknk.co.za/die-onwaarskynlike-verhaal-van-miko/