‘Elke straat het ’n toneelstuk’

Onderhoud met Tertius Kapp, skrywer van Liewer

Deur Mercy Kannemeyer

Mercy: Wanneer het jy aan Liewer begin werk?

Tertius: Min of meer twee jaar gelede. Ek het twee drafts geskryf wat heeltemal anders was. Toe het ek met Jaco Bouwer [die regisseur] begin praat oor die konsep. Ons het besluit ons wil iets oor verhoudings doen. Ek was baie beïndruk met Closer, die rolprent en die toneelstuk, en ek het gevarieer in terme van hoe ver ek daarvan wil beweeg en hoe naby ek daaraan wil bly. Ek het na ’n klomp ander tekste ook gekyk en uiteindelik besluit dat ek die struktuur van Closer wil gebruik en toe het ek weer nader daaraan beweeg.

Ek wou ’n sterk Suid-Afrikaanse weergawe daarvan maak en een doen wat die twintig jaar wat verloop het sedert hy [Marber] die teks geskryf het in ag neem, in terme van tegnologie en om die verskille (sosiaal, ekonomies, polities) tussen die twee kontekste te onderstreep en te kyk watter implikasies dit dalk vir die plot mag hê.

Mercy: Hoe belangrik is dit dat ’n mens kennis het van Closer as jy Liewer gaan kyk?

Tertius: Ek dink nie dis hoegenaamd belangrik nie. Jy hoef nie Closer te ken om Liewer te kyk nie. Ek dink dit is ’n ryker ervaring as jy Closer ken, want dan sien jy waar daar raakpunte is. Wat ek probeer doen het, is om kommentaar te lewer op Closer, veral om byvoorbeeld vrae te vra oor die karakters en waar hul vandaan kom. My gevoel is, my hoop is, dat iemand wat Closer ken, sal sien waar ek doelbewuste kommentaar ingesit het.

Mercy: Hoekom hierdie spesifieke teks?

Tertius: Ek wou iets oor verhoudings doen wat nie gewelddadig is nie. Die uiteinde was toe dat ek wéér iets gewelddadig doen. Ek het gevoel toe ek die karakters opstel, is daar eintlik so baie geweld dat jy nie gaan kan wegskram daarvan nie – veral wanneer ’n mens Suid-Afrikaanse temas begin bywerk.

Mercy: Waar begin jy as jy idees soek vir ’n teks?

Tertius: Ek hou van niefiksie lees, stories oor mense, Suid-Afrika. In Liewer sê Vincent  “elke straat het ’n toneelstuk” en ek voel dis waar van Suid-Afrika. As jy jou oë oopmaak, is daar stories reg rondom jou. Die manier waarop jy insae kry op daai stories is om met mense te praat, maar ook om goeie niefiksie te lees oor werklike verhale in Suid-Afrika. Dis nie te sê ek sal daai storie vertel nie, maar ek sal karakters vind wat my boei en van daar af werk.

Mercy: Wat is vir jou opwindend aan teater?

Tertius: Dis eintlik senutergend, want dit is hierdie masjien wat ’n mens opstel en die onderdele kom alles bymekaar en jy weet gewoonlik eers by die tweede show of dit werk of nie. Jy werk saam met verskillende mense – akteurs, regisseurs, tegnici. Daar kom iets uit in almal se werk wat jy nie altyd vooraf kan bepaal nie. Met ’n fliek weet jy wat jy het voor jy dit vir ʼn gehoor wys. Met teater is daar ’n lewende element, wat beteken elke show is ’n belewenis en die gehoor lewer ook ’n bydrae tot die betekenis daarvan.

Mercy: Waar kom die bruin narratief in jou werk vandaan?

Tertius: Ek dink bruin mense en wit mense wat Afrikaans praat, verstaan mekaar nog nie. Ek dink daar is baie stereotipes en fiktiewe idees wedersyds, ek probeer altyd om te werk met daardie spanning. Ek skryf nie gewoonlik nice karakters nie. Ek probeer karakters met baie dimensie skep, so ek vertel nie eenvoudige stories nie. Ek probeer kyk na die spanning tussen die twee. Soms kan ek dit gebruik vir humor, soos Xander se patetiese poging om die meisie te beïndruk met sy weergawe van Coloured Afrikaans. Soms raak dit baie gewelddadig.

’n Mens is natuurlik heeltyd bewus van goed wat aan die gang is by feeste en op ’n groter politieke vlak. So daar is baie politieke spel aan die gang en ek vind dit fassinerend en ek probeer kommentaar lewer daarop. En natuurlik wil ’n mens nie net wit plays doen nie, maar dit loop weer die gevaar dat mense sal sê nou claim jy bruin stories, so daar is daardie risiko ook.

Kulture leen en steel nog altyd by mekaar en ek gee nie voor dat dit op gelyke voet gebeur nie. Dit is iets wat ek krities hanteer in Liewer, as jy kyk hoe Annie, op alle vlakke, Beatrice se storie steel. Dit hoef egter nie altyd so negatief te wees nie. En dis maar ʼn Catch-22 – dis gevaarliker om net stories oor jou eie kultuur te vertel. ’n Mens moet wel baie navorsing doen om dit so goed as moontlik te doen, maar dit is waar van skryfwerk in die algemeen. Ek wens dit wil meer andersom gebeur as wat ons dit meestal sien, met ander woorde dat daar meer bruin skrywers se uitbeeldings van “wit stories” sou wees, van watter aard ook al.

Lees meer: http://kknk.co.za/dagprogram/liewer-3/