Baie sterk stemme, maar waar is die bruin vroulike skrywers en regisseurs?

Deur Mercy Kannemeyer

’n Straat is afgesper en partytjiedekor hang in die lug. Oral is baniere wat aandui dat hier feesgevier gaan word. Kunsliefhebbers vul die strate en laatnag kuier kunstenaars om die vuur en die volstruisvleis is in oorvloed.

Al hierdie elemente vra om beleef te word en dit is beslis wat ek kon doen met my eerste besoek aan die KKNK.

Dit is vir my as ’n jong kunstenaar opwindend om te sien hoe daar ’n mate van veelsydigheid in stemme op die fees is. Daar is iets vir almal – ernstige drama, komedie, klugte en vermaak vir kinders – wat verseker dat jy ’n volle feeservaring kry.

Twee kunstenaars wat beslis uitgestaan het, is eerstens Jason Jacobs, wat sy eie stempel op teater afdruk. Jacobs werk met siel en die karakters wat hy skep, het gravitas en ’n deurleefdheid. Hy het vanjaar drie stukke na die fees gebring en dit is inspirerend om te sien hoe sy werk die stories van mense vertel wat ons nie gereeld van hoor nie. Hy beeld die bruin gemeenskap op maniere uit wat teen die stereotipe inwerk om sodoende sy mense te bemagtig.

Dan is daar ook Wolf Britz, wat die regie van Piekniek by Mpande, née Dingaan behartig het. Dit is ’n stuk met waagmoed en relevansie en dit gee jou die ruimte om jou bevoorregting in oënskou te neem. Dit spreek veral tot jong gehore, wat my opgewonde maak oor millennials en hul gevoel oor teater – dat teater as ’n instrument vir verandering kan dien. Want in Piekniek word kwessies aangeroer oor verandering, soos apatie, ten einde mekaar beter te verstaan.

Daar was ook interessante kombinasies van mense wat saamwerk, soos die jeugdige Philip Rademeyer en die ervare Dawid Minnaar met Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran. Rademeyer kry met hierdie stuk dit reg om sy veelsydigheid in regie ten toon te stel en dit is merkwaardig hoe netjies hy te werk gegaan het. Die verhooginkleding was delikaat en eenvoudig, met meer as 300 blomme op die verhoog en die beligting wat Minnaar se fyn spel aangevul het.

Terwyl ek in ekstase is oor die toekoms van teater in ons land, was daar egter ’n gebrek aan bruin vroulike skrywers en regisseurs op die fees. As ons ernstig is oor diversiteit en as die kunste ’n weerspieëling wil wees van Suid-Afrika se unieke landskap, is dit van kardinale belang dat ons onmiddellik werk maak daarvan om meer van die stemme op die rand van die samelewing te hoor. Terwyl die idee van gemarginaliseerde mense glad nie iets is wat voortdurend deel moet uitmaak van jou identiteit nie, is dit egter ’n realiteit dat randfigure dikwels aan die agterste speen van geleenthede suig.

Diversiteit sal ons die geleentheid gee om meer oor mekaar te leer en om te werk aan ons verskille sodat ons in ’n geïntegreerde en verenigde Suid-Afrika kan woon. Dit is dalk idealisties, maar daar is stemme op die fees wat my hierin laat glo het.

Ek het by Uitkampteater opgewonde geraak oor Des-Lee McKenzie en Buhle Ngaba. McKenzie en Ngaba is albei vars stemme wat in die toekoms dopgehou moet word en hoewel hul benaderings verskil, is daar iets aan hul werk wat spreek tot die tyd waarin ons nou is. Met Ir(ras)sioneel kry McKenzie dit reg om omstredenheid met betrekking tot politiek, sport en ras aan te roer, wat haar stuk relevansie gee.

Ngaba, wat The Swan Song geskryf het en onder regie van Ilana Cilliers, werk baie delikaat met ’n storie wat my op ’n reis geneem het van lag tot huil tot ’n waardering vir stories waarvan die menslikheid deurskyn. Haar puik benadering tot toneelspel en skryfwerk trek jou in en ek kan nie wag om nog van haar werk te sien nie, want vir my as ’n jong bruin vrou is dit belangrik om mense te hê na wie jy kan opkyk, mense met min of meer dieselfde uitdagings wat verstaan wat nodig is om te oorleef in die bedryf waarin ons ons bevind.

Daar was vir my nog ander vertonings wat uitgestaan het.

Mike van Graan se Pay Back the Curry is ’n skreeusnaakse politieke kragtoer. Daniel Richards het die produksie al meer as 100 keer opgevoer en hoewel dit ’n komedie is, lewer dit sterk kommentaar en daag die status quo uit deur te beklemtoon dat ons as land nog harde bene moet kou voor ons alles wat ons skei, kan oplos.

Karoo Moose was ook ’n wipplank van emosie en dit was ongelooflik om te sien dat dieselfde geselskap wat die vertoning tien jaar gelede gedoen het dit steeds opvoer. Dit sê iets oor volhoubare teaterstukke en werk wat relevant bly omdat dit kwessies belig waarby aanklank gevind kan word. Die verlies aan onskuld en die storie van ’n verbrokkelde familie is temas wat onder ander omstandighede ook van toepassing kan wees en dit is wat dié stuk uitlig.

By kunstefeeste in geheel sal ek baie graag wil sien hoe die plaaslike gemeenskap meer betrek kan word. Die mense wat die hartklop is van die dorp moet deel vorm van die feesvieringe, sodat gemeenskapsbemagtiging ook aandag kan geniet. Goeie programme in hierdie verband was vanjaar te sien en dit is verblydend dat jong talent ontgin word.

KKNK 2017 het beslis gesorg vir ’n belewenis en die partytjiedekor kan nou met ’n geruste hart afgehaal en weggepak word. Tot volgende jaar.

Lees meer: http://kknk.co.za/