KKNK – #beleefdit sonder perke

Deur Andrea Winckler

KKNK, 23 jaar jonk en die hartklop is steeds sterk.

Dié fees is een wat homself gereeld onder die vergrootglas plaas en introspeksie doen om sodoende by die tye, asook die feesganger se behoeftes, aan te pas.

Dit is duidelik dat hulle diversiteit as ’n prioriteit beskou. Die program bied iets vir meeste gehore: ten opsigte van taal, kultuur en smaak.

Hoewel alle teater geskep word vanuit die basiese beginsels van storievertelling, was daar vir my ’n noemenswaardige terugkeer na die vereenvoudigde mondelingse tradisie van die oorvertelling van ’n storie – waar ’n akteur regstreeks met sy gehoor kommunikeer en die storie dan in ’n mate op ’n visuele wyse uitgebeeld word. Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof-trilogie asook Karoo Moose dien as uitstekende voorbeelde hiervan.

Hier word met die gehoor gepraat asof hulle deel vorm van die narratief en dan word die storie(s) deur middel van visuele middele uitgebeeld. Beide hierdie toneelstukke maak ook op ’n uiters kreatiewe wyse van rekwisiete gebruik. Alledaagse voorwerpe word gebruik en misbruik om nuwe betekenis daaraan te verleen. ’n Voorbeeld hiervan in Karoo Moose is wanneer ’n koolblaar as ’n kopbedekking vir die juffrou gebruik word. Die gehoor word ’n smakie van tradisionele Afrika-storievertelling gegee. By Klara Maas vind ons die meer Europese elemente van die Commedia dell’arte.

Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran maak van die medium van ’n solovertoning gebruik en keer ook terug na die meer basiese vorm van storievertelling. Eenvoudige nabootsings word ingespan om lewe aan die onderskeie karakters van die narratief te gee.

’n Ander tematiese tendens vanjaar is die ondersoek van intieme verhoudings tussen karakters. Vanselfsprekend staan die onderhandeling van verhoudings sentraal in enige teatrale narratief en karakters vind lewe binne hul bewuswording van hul rolle binne verhoudings. 2017 se produksies het egter hierdie tema op ’n meer waarneembare intieme vlak verken. Sentrale tematiek rondom ouer-en-kind-verhoudings was te vinde in Asem en Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran. Beide hierdie produksies verken wat die rol van ’n ware ouer is.

Romantiese verhoudings is ook onder die vergrootglas geplaas met Tertius Kapp se Liewer. Kapp verwys na hierdie teks as “ ’n gesprek met Patrick Marber se Closer” en sterk ooreenkomste is sigbaar. Die karakters se soeke na identiteit (as individue asook binne romantiese verhoudings) word oopgevlek op ’n rou manier.

Hoewel ’n mens met karakters te doene kry wat seerkry in verhoudings, is dit ’n kil ervaring waar die gehoor opsetlik van die emosies gedistansieer word. Jaco Bouwer (regie en dekor) se ontwerp sluit verskeie skerms en tegnologiese hulpmiddels in wat bydra tot die skep van hierdie afstand. Karakters word konstant op skerms geprojekteer en die gevoel van ware menslike kontak word deur tegnologie verskans. Nie net raak die karakters self tweedimensioneel op hierdie skerms nie, maar hul verhoudings met mekaar raak ook oppervlakkig, gestileerd en elke interaksie is berekend.

Een van die opwindendste en mees diverse akteurs by 2017 se KKNK moet beslis Wessel Pretorius wees. Pretorius was te siene in Die ontelbare 48, Klara Maas en Die koninkryk van die diere. In Klara Maas vertolk hy hoofsaaklik die rol van verteller, in Koninkryk speel hy ’n narsistiese teatermaker en Die ontelbare 48 bied vir hom die geleentheid om vier heel uiteenlopende karakters te speel (van ’n klein dogtertjie tot ’n ou man). Sy ouskoolse tegniek, begrip van nuanse, nimmereindigende energie en haarfyn beplanning hou die gehoor op die punte van hul stoele tot die laaste oomblik. Hy slaag daarin om in elke produksie iets onverwags te bied wat jou nuuskierigheid prikkel vir wat volgende kom.

’n Fees soos KKNK bied al vir 23 jaar die geleentheid vir jong (en ouer) kunstenaars om hul stemme te verken en hulself binne die kunste te vestig. Niks is werklike taboe nie en niks buite perke nie. Hoe opwindend is dit nie om kuns te skep binne hierdie unieke en eg Suid-Afrikaanse milieu nie.

Lees meer: http://kknk.co.za/