Deprecated: __autoload() is deprecated, use spl_autoload_register() instead in /usr/www/users/kritigvysj/wp-includes/compat.php on line 502 Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /usr/www/users/kritigvysj/wp-content/plugins/revslider/includes/operations.class.php on line 2715 Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /usr/www/users/kritigvysj/wp-content/plugins/revslider/includes/operations.class.php on line 2719 Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /usr/www/users/kritigvysj/wp-content/plugins/revslider/includes/output.class.php on line 3615 Deprecated: Function create_function() is deprecated in /usr/www/users/kritigvysj/wp-content/plugins/revslider/includes/framework/functions-wordpress.class.php on line 258 Deprecated: Function create_function() is deprecated in /usr/www/users/kritigvysj/wp-includes/pomo/translations.php on line 208 Oom Hannes tokkel sy pad na jou hart - Kritiek

Oom Hannes tokkel sy pad na jou hart

Deur Diane de Beer

Produksie: Lepeltjie vol snare

Met Hannes Coetzee, Frazer Barry, Earl Witbooi, Loit Sols, Deniel Barry

Regie: Amelda Brand

Baie mense sal oom Hannes van Herbertsdale met sy “optel-en-knyp”-styl van kitaar speel onthou uit David Kramer se spogproduksie Karoo kitaar blues.

Dieselfde musikale maestro wat die snare so uniek tokkel, op ’n manier wat die klanke deur sy spesiaal vervaardigde amp letterlik laat sing met ’n eiesoortige stem, is terug in ’n spesiale produksie Lepeltjie vol snare.

Dié keer leer hy ’n paar jonger musikante sy kitaarkunsies. Dis nie ’n maklike ding nie. Hoewel hy die verhoog deel met ’n formidabele span, elk met sy eie unieke musiektalent, is oom Hannes enig in sy soort. En wanneer hy die verhoog syne maak, is hy die een wat die hemele laat sing.

As dit miskien oordrewe klink, gaan luister na die man wat so vasberade is om sy kitaargeheime oor te dra en te laat voortbestaan. Met Frazer Barry as leerling is dinge aan die gebeur. Die veelsydige Barry, wat selfs ’n lepeltjie met sy banjo inspan, het besluit om nie slaafs na te boots nie, maar liewers die tegnieke op ’n eie manier aan te wend as ’n eerbetoon aan die oorspronklike klanke van oom Hannes.

Dit kan beskryf word as Karoo-kitaarblues, dié musiek. Met oom Hannes se lirieke wat lekker gesels oor “jukkende voetjies wat dans tot in Rondomskrik” en die musikante se ritmes uitnooi om saam te praat, is dit luister met jou oor baie na aan die hart.

Dis musiek van hier wat ’n mens herken en wat deel uitmaak van die wyd uiteenlopende Suid-Afrikaanse palet. En op dié manier, wanneer oud en jonk musiek maak, word die tradisies behou, gedeel en aangewend om by die hedendaagse aan te pas.

Dit is die verskeidenheid van klanke wat die Suid-Afrikaanse musiekrepertoire so wyd laat draai. Loer maar net na die aanbod op die fees. En dit is wat oom Hannes en die kitaarmanne, wat ook ’n paar inheemse instrumente inspan, so spesiaal maak. Hulle staan hul eie plek vol. Hulle gesels met streekslirieke en ritmiese klanke wat van braaiplekke tot danssale die voete laat skoffel.

Dis musiek uit eie bodem, met oom Hannes wat die hartklop aangee. ’n Mens verstaan sy bekommernis. Dis klanke wat gekoester en bewaar moet word. Omdat hy ná baie jare sy kans op ’n verhoog gegun is, besef hy dat jy moet werk maak daarvan as jy wil hê iets moet behoue bly.

Dié is sy manier van dinge doen – en dit laat die kitaarnote sing. Hy laat jou wag vir daai lepeltjie vol snare, maar dán begin die poppe dans.

* Vertonings: 29 Maart om 10:00; 30 Maart om 14:30.