Almal ken die taal van verlange

Afrique mon désir is sowel ’n album en ’n konsert, aangebied by die KKNK as Afrika my verlange / Afrique mon désir ná die debuut by die US Woordfees. Dit is gebore uit verskeie behoeftes en het gestalte gekry toe die regte mense op die regte tyd bymekaargekom het. Vir Hofmeyr, komponis-sanger, was dit ’n geleentheid om haarself uit te daag en haar net wyer te gooi. Sy gesels met Diane de Beer oor dié besonderde konsert, wat later op ander plekke in Suid-Afrika te sien sal wees en ook in Frankryk ’n draai gaan maak.

Dit het alles begin met ’n ontmoeting met Nico McLachlan van die Cape Town Music Academy, wat later die ganse projek sou onderskryf en ondersteun.

Hy het Hofmeyr eers voorgestel aan die destydse direkteur van die Kaapse Alliance Française, Christian Pizafy, wat in 2015 en 2016 ’n hele paar konserte by die Alliance gereël het.

Hofmeyr is bekend vir haar toonsettings van Afrikaanse gedigte waarin sy die sterk Afrika- ritmes van die taal in die musiek laat saampraat. “Die mense by die Alliance was multikultureel en baie Franssprekendes het my konserte bygewoon,” vertel sy. “Ek het uit my pad gegaan om so paar Franse frases in te gooi by my Engelse aanbieding waarin ek Afrikaanse liedjies gesing het. Ek was mal oor die konsep. Dit was asof ek die Afrikaanse gedigte soos pêrels ervaar het wanneer ek vir dié spesifieke gehoor gesing het.”

Dit was toe ook weer eens McLachlan wat voorgestel het dat sy uitreik en ’n nuwe rigting met haar kuns inslaan. “Hy het gedink ek moet kyk na Franse gedigte van Afrika om te toonset. Ek was aanvanklik onwillig, want ek het gedink Afrikaans was die enigste taal waarin elke woord vir my ’n spesiale kleur en tekstuur gee.

“Ek dink die gedigte van verlange van die Franse en die Frans-Afrikane in die Kaap, so ver van hul huise, was van die elemente wat die projek vir my ontsluit het.”

Die deurslaggewende faktor was uiteindelik dat McLachlan se toe nuwe Cape Town Music Academy die projek en die album sou finansier en ondersteun.

Dit was ’n nuwe wêreld vir dié alleenloperkunstenaar, wat in die verlede hard moes baklei net om haar stem te laat hoor. Sy het nog altyd haar bewonderaars gehad, maar nie die getalle wat sy verdien nie. Terwyl sy beslis ’n niskunstenaar is, was dit asof haar gehoor haar nog moes opspoor – en miskien het die taal haar ook belemmer.

Die invloed van Frans op haar lewe kom reeds van skool en universiteit af en dit het vir haar deure en vensters in haar kop oopgemaak. “Belangrike mense in my lewe het ook ’n Frans-Afrika verbintenis, soos byvoorbeeld Breyten Breytenbach. Die enigste Franse verbintenis wat ek destyds gehad het, was met die karwagte – almal mense wat huis toe verlang het.”

Die feit dat McLachlan deur die Alliance kontak met Franssprekende mense het, het hom beïnvloed om Franssprekende musikante voor te stel. Pizafy het aan boord gekom. “Hy het na meer as 70 musikante uit Wes-Afrika geluister waaruit hy tien vir ’n werkswinkel gekies het, wat in Desember 2016 gehou is. Uit hulle het ons drie fantastiese sangers en ’n kitaarspeler gekies om deel te wees van die ensemble van Afrique mon désir,” vertel Hofmeyr.

Dit was in dié werkswinkel dat Hofmeyr daarvan bewus geword het dat die begrip “world music”, wat nog altyd vir haar ’n dryfveer was, deur dié projek nuwe horisonne sou verken.

Régis Gizavo, ’n trekklavierspeler van Madagaskar, was ook deel van die span en hy word deur Hofmeyr beskryf as een van die mees verbysterende musikante wat sy ooit ontmoet het. “Hy het net so eenmaal na ’n liedjie geloer voor hy begin saamspeel het.” Ongelukkig is hy skielik dood net ’n paar weke ná die CD opgeneem is. “Ek voel baie geseënd dat ek sy laaste musikale oomblikke op aarde gedeel het.”

Die gedigte is gekies uit lande soos Madagaskar, Senegal, Mauritanië en Tsjad en sy is bygestaan deur Catherine du Toit, hoof van uitheemse tale by die Universiteit Stellenbosch, wat Breytenbach aanbeveel het. “Franse departemente by verskeie Suid-Afrikaanse universiteite was besig met ’n projek waarin ’n bekende digter van Madagaskar se werk in Afrikaans en Engels vertaal is.” Dit was die eerste digter waarmee sy gewoeker het.

Met elke digter het Du Toit ’n paar gedigte gekies wat sy gedink het moontlikhede is, dan het Hofmeyr dit woord vir woord, met ’n woordeboek in die hand, vertaal.

“Voor ek die musiek kon skep, moes ek seker maak die kleur en die tekstuur van die woorde het by my interpretasie gepas.” Slegs daarna kon sy ’n gedig of twee van ’n spesifieke digter kies.

Sy het ook navorsing gedoen oor die lande van herkoms, hoewel baie nie meer in Afrika woon nie. “Ek het probeer luister na en gelees oor die verskillende musiektradisies en hoe die musikale elemente binne die tradisies gebruik word en het dit dan as inspirasie gebruik.

“Ek wou ook hê die musikale praatwerk moet gelei word deur die prentjie van die landskap in my kop. Waar die digter grootgeword het, moes ooreenstem met die gevoel van die musiek.”

Van haar vorige getoonsette Afrikaanse gedigte, met spesifieke temas van verlange en Afrika, is ook deel van die vertoning en die CD.

“Om met die vier Franse musikante te werk, het my baie bewus gemaak van die grense wat afgebaken word tussen mense as gevolg van taal, verskillende kulture, maar ook die beperkinge wat die sosio-ekonomiese status teweegbring. Die klein bietjie wat ek geleer het van hulle lewens hier in Suid-Afrika en hul uitstekende musikale vermoëns was verstommend.”

Oudergewoonte het sy en die uitstaande baskitaarspeler-komponis Schalk Joubert saamgewerk aan die musiek. “Ek het die gedigte oopgevlek en Schalk het aan die fusion/crossover gewerk.

“Ek het die temas van ’n gedig verduidelik en hy het dan dikwels die ‘koor’ voorgestel en die sangers sou vorendag kom met woorde wat sou inpas en werk.”

As jy enige van die konserte kan bywoon, moenie vir ’n oomblik aarsel nie. Die ervaring van ’n lewendige opvoering is gans anders, en boonop kan jy die musiek met jou saamneem. ’n Stukkie van Afrika met sy eiesoortige tradisies, maar wat ook bevestig dat die taal van musiek universeel is.

* Vertonings: 2 April om 18:00, 3 April om 14:00.