Deprecated: __autoload() is deprecated, use spl_autoload_register() instead in /usr/www/users/kritigvysj/wp-includes/compat.php on line 502 Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /usr/www/users/kritigvysj/wp-content/plugins/revslider/includes/operations.class.php on line 2715 Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /usr/www/users/kritigvysj/wp-content/plugins/revslider/includes/operations.class.php on line 2719 Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /usr/www/users/kritigvysj/wp-content/plugins/revslider/includes/output.class.php on line 3615 Deprecated: Function create_function() is deprecated in /usr/www/users/kritigvysj/wp-content/plugins/revslider/includes/framework/functions-wordpress.class.php on line 258 Deprecated: Function create_function() is deprecated in /usr/www/users/kritigvysj/wp-includes/pomo/translations.php on line 208 ’n Wêreld van ontvlugting - Kritiek

’n Wêreld van ontvlugting

Deur Herschelle Benjamin

Produksie: In die natuur (In die woud, In die see en In die lug)

Met Jurgen McEwan, Caleb Petersen en Kurt Jonas.

Regie: Chenal Kock

Die kinderteaterproduksies In die woud, In die see en In die lug slaan twee vlieë met een klap: Dit is tegelyk speels en opvoedkundig.

Die span van Aapstert-produksies het verlede jaar gedebuteer as geselskap by die KKNK met In die woud en Cindershoeler, waarvan eersgenoemde die Kanna-prys vir die beste kinderteaterproduksie gewen het.

Moenie dat die leë verhoog en die minimale rekwisiete jou met die intrapslag flous nie, want dieselfde verhoog verander in verskillende milieus met kreatiewe en spontane uitbeeldings. Soos die produksie vloei, so verander die akteurs fisiek en die rekwisiete kom van hier en daar – al die plekke waar jy nie sou kyk nie.

Die kinders geniet die verrassings, terwyl die verbeelding gestimuleer word met die liggaamlike uitbeeldings soos die storie ontplooi. Die spel belig aspekte, maar is nooit oordrewe nie.

Dit mag dalk kinderteater wees, maar ouers kan heerlik kom afskakel – hulle oorgee aan die onskuld en die krag van verbeelding. En onthou hoe broodnodig dit vir die groeiproses is om die verband tussen hart, brein en liggaam te ontwikkel.

Die ruimte word omgetower in ’n seewêreld; die sfere bo ons waar die wolke, die sterre, die maan en die son woon; asook die oerwoud waar bome en plante die habitat vir allerhande diertjies word. Die teks van elke vertoning is eenvoudig, met liggaamlike interaksie tussen die spelers wat ’n groter rol as dialoog speel. Miskien soms vervreemdend, maar altyd interaktief!

Die kinders vang en gooi dan die verskillende gekleurde balle terug met name van die planete. En oe ala, hulle onderskei die kleine dwergplaneet Pluto van Venus, en Jupiter van die Aarde. In In die see is die seekat ewe interessant as die robbe en die stervis. En dikwels skaterlag die kindertjies en hul ogies blink van bewondering …

Dié span doen duidelik iets reg, want met hul tweede keer by die KKNK is hul gehoor nog net so ontvanklik, en in ekstase om die spelers weer te sien.

In die intieme ruimte van ’n  tent word ’n wêreld van ontvlugting geskep. Is dit nie maar teater wat ons almal soms moet gaan kyk nie? Al is jy nou ook sonder kind of kraai?

* Vertonings elke dag van 11:00 tot 17:00 by ATKV-Speelbos.