‘Hierdie lewe’ ’n waardige eerbetoon aan Karel Schoeman

Deur Herschelle Benjamin

Produksie: Hierdie lewe

Met Antoinette Kellermann

Regie en ontwerp: Wolf Britz

Teks: Verwerking deur Saartjie Botha na Karel Schoeman se gelyknamige roman

Hierdie lewe is die mooiste, delikaatste en ’n gepaste produksie om eer te betoon aan Karel Schoeman, een van die grootste Afrikaanse literêre geeste.

Die woorde gly uit Kellermann se mond. Schoeman se woorde was nie ’n geskree om gehoor of geprys te word nie, maar om eerder die lewenstog van ons bestaan te probeer verwoord en te omskryf. Hy was in sy woorde en sy woorde was in hom.

’n Ou vrou sterf in ’n eindelose nag. Sy onthou. Sy wil nie onthou nie. Sy kan soms nie onthou nie. Sy droom. Sy vertel. In die laaste oomblikke van haar lewe is dit die herinneringe wat haar op die laaste tog in die donkerte inlei met gerusstelling en begrip. Dalk ook onvervuldheid, by nabetragting. “Hoe ver wil jy hê moet sy terug gaan?” vra sy oor en oor.

Die skyn-gordyn is die agterdoek waarmee Britz speel met silhoeëtte en beligting, wat – nes Braam du Toit se musiek – nie net die teks ondersteun nie, maar ook visueel en sensories belig. Die vlammende kers teen die gordyn is ’n hoogtepunt.

Die rol pas Kellermann soos ’n handskoen, maar sy staan in diens van die groot gestorwe gees en sy woorde. Haar sensitiwiteit teenoor haar materiaal is ’n besondere vaardigheid waarby jonger akteurs kan leer. Sy vul ’n saal met haar resonerende stem – selfs in die mees gedempte oomblikke is elke woord hoorbaar – en neem die gehoor saam met haar op reis.

Dis in die doodsnikke van die vertoning waar die trane vlak lê en die bewondering nog meer word vir Schoeman, Botha se verwerking, Kellermann se uitmuntende vertolking en Britz se kreatiewe en stimulerende regie.

Dit is ’n produk van gehalte en ’n waardige eerbetoning.