Ons het dalk meer in gemeen as wat ons dink

Deur Mercy Kannemeyer

Produksie: Kinnes

Met Lee-Ann van Rooi, Dean John Smith, Dustin Beck, Lindsey Abrahams en Shannon Williams

Teks: Chase Rhys

Regie: Hennie van Greunen

Kinnes handel oor die lewe van vyf mense wat op die Kaapse Vlakte woon en hoe die lewe hulle tot op ’n punt dryf waar hulle tot die uiterse gaan om te oorleef.

Die kinnes is Anwaar, Nicole, Derick en Rolanda. Anwaar Brand, of Ani Brand soos hy homself noem, word gevra om in ’n oorsese dokumentêre fliek, Gangster Gangster, te speel. Die roem raak oorweldigend en die grense tussen werklikheid en skyn begin verdof. Nicole is die een wat goed presteer op skool, maar dan raak sy verlief op Derick, raak swanger en die lewe begin sy interessante draaie met haar en Derick loop. Derick wil uitstyg bo sy omstandighede deur te dig, maar hy maak nie geld nie. Rolanda wil graag soos ’n Kardashian wees. Anwaar se ma, Mary, sal enigiets doen om haar seun te beskerm, veral teen die mense wat niks goed oor haar seun te sê het nie.

Kinnes kry dit reg om elke karakter se storie deeglik te vertel – daar is nie verwarring oor enigeen se lewenstog nie.

Dit is ’n bruin storie, maar dit is vir seker nie elke bruin mens se storie nie. Rhys belig die lewe op die Kaapse Vlakte en maak ’n belangrike gesprek oor stereotipering oop. Die kwessies waarmee die karakters worstel, word maklik in bruin mense se kryt gegooi en gesê: “Dis júlle issues.”

Rhys hanteer dit wel met omsigtigheid en vertel uiteindelik ’n storie wat gehoor moet word, want dit fokus op naïwiteit, verlies aan onskuld en hoop binne ’n spesifieke konteks. En daardie konteks, die Kaapse Vlakte-konteks, word dikwels gestereotipeer, so dit is verblydend dat die skrywer kies om dit aan te pak en nie weg te skram van dít wat op mense van die Vlakte geprojekteer word nie. Dit ignoreer nie die olifant in die vertrek nie, want in teater behoort niks onder ’n dekmantel geplaas te word nie.

’n Interessante vraag is of Hennie van Greunen die regisseur van hierdie storie mag wees. Mag ons mekaar se stories vertel? Aan die een kant is daar iets te sê oor ons gedeelde erfenis, en wie van ons weet werklik waar ons vandaan kom, maar aan die ander kant is daar die debat oor appropriasie en of ons werklik ooit in mekaar se skoene kan klim. Dit is ’n opwindende gesprek wat hopelik met meer begrip en deernis vir mekaar se omstandighede gevoer kan word. Ons het dalk meer in gemeen as wat ons dink.