Scholtz mag maar oor vroue skryf …

Deur Herschelle Benjamin

Produksie: Weerkaats

Met Milan Murray

Teks: Retief Scholtz

Regie: Philip Rademeyer

Weerkaats is ’n solostuk wat ondersoek instel na keuses en die gevolge daarvan. “Die keuses wat jy maak, bepaal die lewe wat jy lei.” Só lui die woorde in baie gesprekke oor dié wat was en nie meer vandag is nie. Elke keuse op ons lewenspad.

En hoe vervleg is die paaie van ons lewens tog nie? Die paaie wat kan saamloop en die brûe wat ons aan mekaar verbind. Vyf vroue uit verskillende perspektiewe laat jou oor al bogenoemde wonder en besin oor hoe die lewe nie net vanselfsprekend is nie.

Die werklikheid van die stories is in gesprek met die simboliese elemente, wat Rademeyer in sy regie na vore bring. Rademeyer belig die verskillende vlakke en dimensies van die teks. Soos die ironie van die swart-wit-palette, want die teks bewys juis dat alles nie net swart en wit is nie.

Die karakters is ’n vrou wat ’n toespraak by haar beste vriendin se troue moet maak; ’n motiveringsspreker en skrywer van selfhelpboeke; ’n besigheidsvrou op die vooraand van die dag wanneer sy ’n lewensbydrae-prys kry – sommer al so in haar veertigs; en ’n beroemde ster wat ’n onderhoud doen vir ’n come-back-artikel: almal gesien vanuit die oogpunt van ’n vrou wat op die onvoltooide brug in Kaapstad staan en hulle in die gehaas-en-blaas van die stadstrate sien.

Die teks getuig van goeie begrip vir die verskillende vroue se verwysingsraamwerke – en boonop dat Scholtz as man hierdie teks kon skryf in die wêreldklimaat van #MeToo, #MenAreTrash en #TimesUp .

Hy gee wel vir sy plaaslike gehoor dít wat hulle ken: bevoorregte wit vroue wat ook sukkel met hul eie lewens oor universele temas soos gelykheid, sosiale verwagtinge, veroudering en innerlike vertwyfeling. Hy mag en hy het – met eerlikheid en kompleksiteit.

Murray behou die aandag van haar gehoor en vul die saal met haar stem, funksionele bewegings en die fyner kuns van spel.

Dis verrykend om te sien hoe jonger generasies/nuwe stemme suksesvol saamwerk en eksperimenteer met ervare kunstenaars. Dié kombinasie is voordelig vir albei.