Wessel sterk teenwoordig, maar nie in vlees

Wessel Pretorius, wat in teaterkringe geen bekendstelling meer nodig het nie, is by vanjaar se KKNK betrokke by Fotostaatmasjien, Mike & Mavis en Sê my naam soos ’n Starbucks-knaap. Hy doen die regie vir Fotostaatmasjien en het die ander twee produksies geskryf. Mercy Kannemeyer het met hom oor Fotostaatmasjien gesels.

Hoe het Fotostaatmasjien se proses begin?

Bibi Slippers (digter) en Saartjie Botha (direkteur van die US Woordfees) wou vreeslik graag die bundel  in ’n verhoogproduksie omskep. Toe stel Saartjie my voor as regisseur omdat sy my produksie Klara Maas se hart is gebreek gekyk het, en gedink het die styl sal reg wees vir Bibi se bundel. Ek en Bibi het een oggend ontmoet vir koffie, maar toe het ek nog nie eers die bundel gelees nie. Toe sê ek laat ek eers die bundel lees, en ek was absoluut mal daaroor. Ons het mekaar nog nooit vantevore ontmoet nie. Ek het haar deur die bundel ontmoet en daarna het ons gesels, die teks gekonseptualiseer en daarna die geselskap bymekaargesit. Ons kon so ses mense in ons begroting inpas.

Hoe het jy die regie benader?

Ek het ’n groot deel van die choreografie by die huis op my eie uitgewerk. Daarna het ek met die geselskap gewerk en gesê daar is sekere goed waaroor ek nogal sterk voel. Ek is mal daaroor as goed baie skoon, netjies en presies is. Later het ek besluit ek moet ook kyk na almal se lywe, want almal het nie noodwendig dieselfde soort ritme nie. Daarna het ek begin om alles op die verhoog uit te werk, maar teen daai tyd het almal al die styl verstaan. Die geselskap is regtig so entoesiasties, hulle het hulself daarin gewerp en dit is absoluut verrykend om saam met hulle te werk.

Wat is die styl van Fotostaatmasjien?

Om eerlik te wees, ons het die styl so semi opgemaak. Maar ek dink dit het bietjie van die comic book-styl, wat by UCT onderrig word. Dit is byna dieselfde styl as wat ek gebruik het in Klara Maas se hart is gebreek. Daar is baie rekwisiete, maar daar is nie regtig ’n stel nie. Ons wou kyk hoe ’n mens te werk kan gaan om ’n nie-letterlike vorm letterlik te maak, dit in ’n fisieke vorm uit te beeld. Dit is maar bietjie van ’n patchwork van verskillende style, dans, so bietjie Pina Bausch (befaamde choreograaf en danser). Gestural language is ook vir my lekker om mee te werk.

Wie was die gehoor wat julle in gedagte gehad het?

Bibi se digbundel spreek tot ’n nuwe generasie, en veral mense wat geskool is in popmusiek en sosiale media. Ons het verskriklike entoesiastiese hoërskoolkinders gehad, wat vir my baie verblydend is. Ons het ook mense in hul veertigs en vyftigs gehad en ons is oorweldig deur mense in daardie ouderdomgroep wat die toneelstuk absoluut verstaan, en wat baie nuuskierig is oor wat ons doen.

Hoe voel dit om vanjaar nie as akteur by die fees betrokke te wees nie?

Ek wil graag speel. Daar is ’n paar dinge aan’t kom vir later. Lara Bye het eenkeer gesê ’n mens het die stuk nodig waaraan jy nou werk, die stuk wat jy beplan om volgende te doen en dan die stuk waaroor jy fantaseer vir die toekoms.

* Vertoning: 4 April om 13:30 in die Gimsaal.